|
Hier is 'n opsomming van wat ons glo:
Ons glo dat die Bybel die Woord van God is waarin Hy vir ons alles bekend maak wat ons nodig het om ewig by Hom te wees. Om die rede is die Bybel die bron van alles wat ons glo en doen.
Ons glo dat die Drie Enige God heilig en genadig is.
Ons glo dat alle mense van nature sondaars is en daarom die Heilige God se straf op sonde, naamlik die ewige dood verdien. Maak nie saak hoe hard ons probeer nie, ons sal onsself nooit kan red nie en daarom is ons totaal en al van God se genade afhanklik.
Ons glo dat die Heilige God ondanks mense se sonde nogtans kies om sekere mense te verlos omdat Hy genadig is. Hierdie verlossing is totaal en al onafhanklik van wat 'n mens doen, wie hy is of enige ander meriete wat hy self mag hê.
Ons glo dat Jesus Christus God se verlossingsplan is. Jesus Christus is die ewige Seun van God wat namens ons aan God se heilige vereiste voldoen het deur 'n sondelose lewe te lei. Nie net dit nie, Jesus het ook in ons plek die straf op ons sonde gedra deur as 'n vervloekde aan die kruis te sterf.
Ons glo dat mense alleen van die Heilige God se oordeel gered word deur in Jesus Christus as hulle Verlosser te glo. Hierdie geloof is 'n geskenk van God en word nie net aan individue gegee nie, maar volgens God se verbondsbeloftes ook aan die kinders van gelowiges.
Ons glo dat die Heilige Gees in God se mense woon en hulle instaat stel om op Christus te vertrou en om Hom te volg.
Ons glo dat wanneer mense tot 'n ware geloof in Jesus Christus gekom het, hulle nooit weer verlore kan gaan nie. Gelowiges sal tot die einde toe in geloof volhard deur God se krag en die werking van sy Heilige Gees.
Ons glo dat die kerk die verbondsgemeenskap van God is waar sy genade vrylik beskikbaar is vir almal deur die prediking van sy Woord en die bediening van die sakramente van die doop en die nagmaal.
Ons glo dat Jesus Christus op die laaste dag liggaamlik en sigbaar sal verskyn om die hele mensdom van alle tye te oordeel en om sy eiendom finaal na Hom toe te neem.
Ons glo dat dit die doel van ons lewens is om tot eer van God te leef deur in alles aan ons Here en Koning, Jesus Christus gehoorsaam te wees. Daarom fokus ons daarop om God te aanbid, ons mede-gelowiges te ondersteun en na die wêreld toe uit te reik met die Evangelie.
Ons geloof word ook verder meer volledig verwoord in die volgende belydenisskrifte:
- Die Heidelbergse Kategismus
- Nederlandse Geloofsbelydenis
- Die Dordtse leerreëls
- Westminster Confession of Faith
|
Geloofsbelydenis
Ons glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
Wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel;
Wat op die derde dag opgestaan het uit die dood;
Opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, waarvandaan hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Ons glo in die Heilige Gees;
Ons glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;
Die vergewing van sondes;
Die opstanding van die liggaam
En 'n ewige lewe.
|