Kom aanbid God in Afrikaans
God roep elkeen van ons om ons liefde vir Hom te bewys (Luk 7:47) deur Hom te aanbid. Gaan lees gerus die aangrypende gedeelte in Lukas 7:36-50 waar ons sien hoe die soort aanbidding lyk wat Jesus verwag. Om dit te doen kom ons Sondae 18:30 by die Rotherhithe Free Church bymekaar waar ons 'n Afrikaanse erediens hou.

F.A.Q.

Hoe lank is die diens?
Die diens duur net minder as 'n uur. Daarna kuier ons so lank ons wil in die teekamer.

Wat trek ek aan?
Wat jy wil.

Is daar parkering?
Ja, die kerk het 'n parkeerarea met oorgenoeg vir almal se karre.

Kan kinders ook kom?
Kinders is meer as welkom. Ons het 'n moederskamer waar jy self saam met jou kind kan sit en deelneem aan die diens. Ons het ook elke Sondag iemand wat ouers uithelp deur die kinders in die moederskamer op te pas.

Sê nou ek is laat?
Kom net in. Die ingang is aan die agterkant van die kerkgebou en jy sal niemand pla nie.

Hoe gaan die uur verloop?
Die diens begin 18:30 en daar sal mense by die deur wees wat jou groet en 'n diensblaaidjie gee. Hulle is ook die mense wat jy kan vra as jy iets wil weet, van waar die badkamer is tot hoe om 'n lidmaat te word. Moet nie bekommer as jy laat is nie, kom net in en geniet saam met ons die diens.

Ons het gewoonlik 'n paar afkondigings en enige iemand is welkom om iets te sê of vra. So ook met die gebedspunte waaroor ons gewoonlik praat voordat ons begin sing. Jy kan enige gebedspunt gee of vinnig terugvoer gee oor iets waaroor ons in die verlede gebid het. Nadat ons besluit waaroor ons tydens die diens gaan bid, open ons met gebed en begin ons deur saam te sing.

Ons sing liedere wat uit die Bybel kom waarvan die woorde of op die blaaidjie, of op die skerm sal wees. Ons begeleiding is eenvoudig 'n klavier, maar soos wat ons nog musikante kry kan dit groei.

Die laaste lied wat ons sing sal gewoonlik 'n lied wees waarin ons ons sonde bely. Nadat ons dit gedoen het hoor ons die seëngroet van die Here. Ons bely ons geloof volgende saam, waarna ons tot God bid en vra dat Hy sy Woord vir ons sal duidelik maak wanneer ons nou daarna gaan luister. Nadat ons saam na die Skriflesing geluister het volg die preek. Hier is ons doel om die teks beter te verstaan, veral wat Jesus se dood en opstanding vir ons verlossing beteken.

Na die preek gebruik die voorganger die gebedspunte wat ons vroeër genoem het en lei ons in gebed. Ons gee volgende ons liefdegawe waarna ons vir 'n laaste keer saam sing. Die Here stuur ons daarna met sy seën in die wêreld in.

Na die diens kuier ons saam in die kerksaal waar ons koffie, tee of koeldrank drink. Daar is ook gewoonlik iets om aan te kou - selfs melktert van tyd tot tyd! Eers as almal moeg gekuier is begin ons oppak, ligte afsit en toesluit.


Afrikaanse diens: 18:30 by Rotherhithe Free Evangelical Church. Kliek op kaart hieronder vir aanwysings

Kontakpersoon: Eredienste


Canada Water Kerk © Copyright 2008
Last Modified: 2008/07/04
Webmaster: Mari